Vrou herstel wonderbaarlik van beroerte Lief en Leed, News Actual

Die meeste van ons ken vir Nel van der Brugge, die redakteur se vrou.
Sy is ‘n opgeruimde vrolike mens wat altyd vir jou sal sê: “Dit gaan skitterend” wanneer jy vra: hoe gaan dit?
Maar Maandag die 19e het sy geweier om te sê dit gaan skitterend. Sy het vir die eerste keer gesê: Nee dit gaan nie skitterend nie.

 

Ek skryf hierdie berig breedvoerig om

 

dat ek eerstehandse kennis het van wat gebeur het en omdat dit so uiters belangrik is om ‘n beroerte te herken en onmiddellik by die ongevalle uit te kry.

Dit is uiters belangrik vir enigiemand om te weet hoe om op te tree wanneer jy rede het om te vermoed dat ‘n persoon ‘n beroerte gekry het. Dit tydvak waarin mediese hulp doeltreffend sal wees is slegs 3 tot maksimum 4 uur daarna is kanse op herstel aansienlik minder.
Simptome van ‘n beroerte is skielike gevoelloosheid of lamheid in gesig of een kant van die liggaam.
Skielike verwarring, sukkel om te konsentreer.
Vra om ‘n maklike sin op te sê soos: “Jan Pierewiet staan stil” wanneer sy praat aangetas is sal jy dit dadelik hoor.
Vra wat is familielede se name of troeteldiere. Hulle sukkel om dit te onthou of uit te spreek.
Vra om altwee arms in die lug te steek, die een wat verlam is sal laer opgesteek word of glad nie.
Moet nie hierdie simptome verontagsaam nie, ‘n beroerte doen permanente skade aan die brein hoe langer hoe erger. Maak ‘n mental note van hoe laat dit begin het, dis belangrik vir die hospitaal personeel.

Vrou herstel wonderbaarlik van beroerte.

Dit was Maandag ‘n normale dag, ons het teruggekom van Swaziland na die lang naweek en nie te veel om te doen vir die dag nie. Ons het besluit ons sal Secunda toe ry vir besigheid. Om half twee laat Nel my in die kantoor weet sy is reg om te ry ek kan maar haar kom optel by die huis. Dis nie 10 minute later wat ek by die huis kom. Alles lyk normaal, sy sê sy is reg om te ry maar ek wil nog gou iets eet. Dis toe wat dinge begin skeef loop. Nel gaan sit by die tafel en sê sy voel vreeslik. Sy gaan badkamer toe om haarself reg te ruk en kom trug. Eks OK nou, sê sy. Ek weet nie wat om te vermoed nie en ons klim in die kar. Daarvandaan probeer ek om ‘n gesprek met haar te voer maar ek kry nie een sinvolle woord uit haar nie. Toe besluit ek om liewers om te draai en die dokter te gaan soek. Intussen bel ek vir Nicolien, my dogter, en sy vra vir Nel: Wat is ma se perd se naam? Nel kan die vraag nie antwoord nie. Dis toe wat Nicolien vir my sê dat daar groot fout is en Nel moet hospitaal toe.
Op pad huistoe om haar tassie te pak, kry Nel die tweede beroerte. Ek probeer om die ambulans in hande te kry maar die was nie beskikbaar nie. Ek gee vir haar ‘n kardiologiese disprin wat ek self altyd gebruik om haar bloed ietwat te verdun. Ook maar riskant sien ek later want as sy bloeding op die brein het dan vererg dit die bloeding!
Gelukkig het Nicolien vir Wentzel gebel en hy kom help my toe om Nel in die kar te kry en Witbank toe te jaag. Dit was toe amper 4 uur, amper 2 ure na die begin van die beroerte.

In Witbank se Life hospitaal is toe ‘n scan gedoen wat gewys het daar is blokkasie maar geen bloeding nie. Die spesialis, dokter Banks, stel toe voor om ‘n trombolisis te doen. Hy verduidelik vir ons die risikos en die voordele van die behandeling en ook die harde feite as dit nie gedoen word nie.
Ons stem toe in en die drup met die chemikalie wat die bloedklonte moet oplos is toe opgesit. Omdat die behandeling so riskant is, moet Nel daarna opgeneem word in ICU om onder observasie te bly tot die risiko verby is.
Daar was werklik geen hospitaal met ‘n ICU beskikbaar in die omgewing nie en na amper 20 hospitale gebel is het ons plek gekry in Netcare Union in Alberton.
Nel is toe soontoe vervoer per ambulans en teen 11 uur in die aand daar opgeneem.

De volgende dag is daar ‘n MRI gedoen wat wys daar is nou bloeding op 2 plekke waar die bloedklonte was. Dit is ‘n risiko van die trombolisis behandeling wat nie uitgeskakel kan word nie. Doen jy nie die trombolisis nie dan sit jy met permanente skade.
Nel se kop was nou seer van die drukking op die brein en sy het onsamehangend gepraat.

Die Neuro-spesialis wat met haar gedeel het, verduidelik toe aan ons dat Nel twee bloedklonte deur die are gehad het, een links en een regs. Die linkerkantse een het haar spraak aangetas as ook haar kort termyn geheue. Sy kan nie haar van vir hom gee nie. Die regterkantse een het haar sig aan die linkerkant aangetas, sy is blind in die linkeroog.

Dit was die grootste skok vir my en Nicolien om te hoor dat die skade erger is as wat ons verwag het en dat dit volgens die Neuro-spesialis redelik permanent sal wees. Hy het gereken dat sy nog 2 weke in ICU sal wees en nog 3 maande vir behandeling in ‘n rehabilitasie eenheid. Dan met baie geluk sal sy herstel in min of meer ‘n jaar.
Die volgende dag is daar toe weer ‘n MRI gedoen om te sien of die bloeding uitbrei.
Gelukkig blyk toe dat die bloeding stabiel is wat beteken dat die liggaam enige bloed wat nog uitlek net so vinnig absorbeer, dit vererg nie die drukking op die brein nie.

Nel was maar onder medikasie om haar kalm te hou want sy wou net huistoe gaan. Niemand het haar ooit vertel wat aan die hand is nie en sy het gedink sy is net deurmekaar.
Eers toe ek mooi vir haar verduidelik van die 2 beroertes wat sy gehad het toe skrik sy en is sy bereid om nog in die hospitaal te bly. Daar sien ek toe dat sy weer rede kan verstaan. Naomi het toe ook inmiddels van die Kaap by ons aangesluit.

Ek vra toe vir Nel of sy kan sien. Sy re-ken sy sien alles. Dis toe wat ek ‘n toets op haar doen. Die vorige dag kon sy nie my vinger sien as ek dit voor die linker oog beweeg nie. Maar vandag maak ek haar regter oog toe en sê vir Naomi om haar hand op te hou. Sy hou eers 1 vinger op. Hoeveel sien jy? 1 vinger. Toe 2. Hoeveel nou? 2 vingers. Toe 3 en toe die hele hand. Nel kan sien! Die oog wat blind was wat die Neuro-spesialis ons geen hoop vir wou gee nie het herstel binne 3 dae na die bloeding!

Hier by die 5e dag is Nel weer by. Sy praat, sy reageer korrek, sy gee die regte antwoorde sy is weer met ons. Ja, sy is nog swak, sy is op medikasie maar sy het nie nodig om vir rehabilitasie te gaan nie. Maandag ‘n week na die beroerte is sy ontslaan. Dinsdag het ek haar by my dogter se huis in Pretoria gaan haal.
Ons harte loop oor van dankbaarheid. Almal wat ‘n oproep of boodskap vir ons gestuur het moet weet dat ons dit baie waardeer. Ons dank gaan ook uit na die hositale wat ons so uitstekend gehelp het. My grootste dank vir my dogters Nicolien en Naomi wat ons bygestaan het met al die reelings en hulle ondersteuning. En ook vir Wentzel.
Onthou, moet nooit ‘n waarskuwingsteken ignoreer nie, dit kan ook met jou gebeur!

Vrou herstel wonderbaarlik van beroerte
0 votes, 0.00 avg. rating (0% score)

Leave a Reply